Ballerinas in die Badkamer [Hoofstuk 3]

Screen Shot 2017-06-13 at 11.04.05 AM

Hoofstuk 3

Katrien staan in die kombuis en haar maag grom van hongerte. Sy swaai die groot, silwer yskasdeure oop en word onmiddelik herinner aan die aaklige woorde van John Miles. Verduiwelde mansmens! Hoe kan hy so gemeen wees? Ek wonder of hy die ander meisies ook so sleg gesê het? Sy gryp ’n plastiek houer waarin haar ma tuisgemaakte sjokoladekoekies bêre.

Sy strek haarself op die bank onder ’n snoesige kombers uit en skakel die televisie aan, sy kyk na die bak koekies wat sy so te sê klaargemaak het en sit dit onmiddellik langs haar neer en stap badkamer toe.

Katrien klim op die badkamerskaal wat in die gastebadkamer staan. Vyf- en-veertig. Dis asof die rooi syfers vervaag en Katrien alle beheer verloor. Sy hurk oor die porseleintoiletbak en druk haar vinger in haar keel af. Die koekiemodder is al wat uitkom en sy druk haar oë styf toe sodat sy nie die sonde waarmee sy nou besig is, kan sien nie. Sy doen dit weer en weer, weer en weer en bars in ’n warrelwind van ween uit en sak inmekaar.

Sy spoel die toilet en gaan lê op die materiaalbank in die sitkamer. Sy draai haarself in haar kombers toe – haar kokon – waar sy net vir ’n besonderse kort tydjie van alles en almal kan vergeet.

Die voordeur klap toe en Katrien skrik wakker. Sy sit regop en probeer fokus. Haar mond proe soos ’n rioolpyp, hoe dít ook al mag proe. Sy staan op en trek die kombers oor haar skouers en stap by die trappe op tot by haar kamer. Sy weet sy moet oefen, maar het eenvoudig nie nou krag nie. Haar selfoon wat op die ivoorbedkassie lê, vibreer en sy tel dit op. Hallo my balletprinses, wanneer kan ek jou weer sien? W

Sy glimlag en staar na die skerm en begin dan ’n boodskap tik. Sonneblomstraat 73. K. Xx.” Sy weet dat sy besig is om verlief te raak op Werner. Dit was glad nie in haar vyf jaar plan nie, maar dis nie asof sy hiervoor gaan soek het nie. Haar selfoon vibreer in haar hand en sy word weggeruk van haar gedagtes. Sien oorn halfuur J”. O, vrek! Die ou waarop sy soortvan verlief is, is oor ’n halfuur hier en sy lyk soos iemand wat uit die dood uit opgewek is!

Katrien loer by die venster uit, Londenweer, winterweer. Sy pluk haar dubbelkasdeure oop en blaai deur die hangers en hangers ontwerpersklere opsoek na iets gepas vir die ontmoeting. Werner lyk glad nie soos die tipe ou wat oppervlakkig is om om te gee oor wat sy aan het nie. Nogtans. Sy wil ‘mooi’ lyk vir hom.

Katrien loer na die bondel klere op die bed. Sy kies ’n stywe swart broek, ’n wit gestreepte truitjie en bruin stewels wat net onder haar knie stop. Sy gaan staan voor die lang spieël en bekyk haarself op en af. Sy wikkel die haarrekkie uit haar krullerige bruin hare en laat val dit oor haar skouers. Iets kort om haar look te complete. Sy grawe in haar laai en sit ’n pragtige bos krale om haar nek. Sy onthou haar ma het dit vir haar uit Parys gebring en sy is absoluut mal daaroor.

Die voordeurklokkie laat haar wip soos sy skrik en sy hardloop vinnig af by die trappe. Sy trek die groot voordeur oop en sy snak behoorlik na haar asem toe sy sien hoe handsome Werner lyk.

Bruin puntskoene, ’n blou denim, ’n wit knopieshemp en ’n sagte bruin trui laat hom absoluut verruklik lyk. Katrien wonder of hy kan sien dat haar hart so bokspring. “Kom in,” nooi sy hom vinnig in en maak die deur agter hom toe. “Coffee, tea or me?” vra sy met ’n tikkie flankering in haar stem en sy kan sien Werner het dit opgetel.

Coffee and you,” glimlag hy vir haar en neem haar hand in syne. Sy trek hom kombuis se kant toe en hy gaan sit op een van die kroegstoeltjies wat netjies teen die buffet gepak is. Katrien vang Werner se oog en sien hy’t ’n frons op sy gesig. “En nou?” vra sy. “Dat jy met daai frons na my kyk?” Hy staan op en gaan staan voor haar. Katrien se hart hou amper op met klop. Sy weet nou wat Gerhard Steyn bedoel het met ‘my hart klop tjoklits’. Vir haar voel dit meer soos dik custard.

“Wanneer laas het jy geëet?” Die vraag vang haar ’n bietjie onkant en dis amper of ’n golf van duiseligheid oor haar spoel. “Hoe bedoel jy nou?” vra sy om meer tyd te koop en ’n antwoord uit te dink. “Ek het gevra, wanneer laas het jy geëet?” Katrien kan sien dat Werner nou ernstiger is. Die woorde kom uit voor sy dit kan keer. “Gister, maar ek’t dit opgebring.”

Die keer is dit Werner wat onkant betrap is. Sy frons word dieper in sy voorkop ingegraveer en Katrien se hartklop sit in haar keel. “Katrien, jy kan mos nie dit doen nie. Is dit omdat daai John Miles ou vir jou gesê het jy moet gewig verloor? Dis gevaarlik.” Katrien vererg haar. “John Miles, dié John Miles, het gesê ek’s dik! Geen dieet werk nie, ek moes net iets anders probeer.” Sy voel die trane weer in haar groen oë opdam. Hierdie is só nie hoe sy gehoop het hulle kuiertjie sou uitdraai nie.

Katrien kyk hom aandagtig aan. “Werner, ek dink dis beter as jy gaan.” Hy frons nog dieper en trek haar aan haar arm tot in die sitkamer. Sy gaan sit op die materiaalbank en hy gaan sit langs haar met sy arm om haar lyf gedraai. “Ek gaan nêrens heen nie. Ek gaan jou hierdeur help.” Katrien kan nie help om haar gesig in sy nek te bêre en net te huil nie. Sy weet sy is in die moeilikheid, maar of sy daar sal kan uitkom weet sy nie.
Katrien sukkel om te konsentreer in ou Faf se klas. Die Wiskunde raak elke dag moeiliker en sy het al twee keer vanoggend haar kos opgebring. Oor die afgelope paar weke het dit al hoe makliker en makliker geraak en Werner raak al hoe meer agterdogtig al sê sy sy doen dit nie meer nie.

Die klok lui en die klas begin dadelik oppak. Buite wag die res van die musketeers vir haar en sy kan sien Alexandra kyk haar snaaks aan. “Saved by the bell,” sug Danielle. “Wat van ’n vinnige milkshake by Japie’s?” vra Mia. Die meisies stem in, maar Katrien bly doodstil. “Ek het ’n kopseer, ek sien julle later.”

Sy probeer so vinnig moontlik tussen die bondel kinders verdwyn. Sy glip vinnig by die meisiesbadkamer en dan by die eerste hokkie in. Sy laat gly haar skooltas van haar skouers af en sit met haar kop in haar hande. Sy voel moeg en uitgeput. Sy weet dat dit as gevolg is van die … sy skud haar kop. Sy móét by die John Miles Dance  Academy inkom. As sy nie by sy balletprogram inkom nie is dit tickets met haar balletloopbaan.

Sy staan op en hurk oor die toiletbak en druk haar vinger in haar keel af. Sy stop toe sy die badkamer deur hoor oopvlieg. O vrek! Sy hoop nie iemand het haar gehoor nie! Sy spoel die toilet en gooi haar skooltas weer oor haar skouer. Stadig maak sy die hokkie se deur oop. Juffrou Rhoode staan met toegevoude arms voor haar. “Juffrou de Jager, voel jy siek?” vra sy, maar Katrien kan sien dat juffrou Rhoode presies weet waarmee sy besig is. “Ja dankie Juffrou, ek dink dis sommer iets wat ek vanoggend geëet het.” Lieg. Sy glip vinnig verby juffrou Rhoode en hardloop dan af in die gang tot buite.

Katrien stop vinnig in haar spore toe sy Werner voor haar huis sien sit. Sy glimlag en stap nader. “En nou?” Hy kyk vinnig op van sy selfoon en staan op. “Ek het kom kyk hoe dit gaan.” Katrien is sommer dadelik vies. Vir wat voel hy die need om haar op te check? “Eks fine jy kan mos sien,” sê sy kortaf en Werner frons.

Sy klim by die trappe op en maak die voordeur oop. “Ek is bekommerd oor jou Katrien!” roep Werner uit en sy stop met haar rug steeds na hom. Sy draai om en staar met leë oë na hom. “Werner, moet asseblief nie jouself oor my bekommer nie. Ek sal fine wees.” Katrien kan die seer in sy oë sien. “Mag ek inkom?” vra hy en speel met die voorpunt van sy skoen op ’n los klippie. Sy sug en stoot die voordeur oop. “Kom dan binne …”

Katrien sit die koppie warm koffie voor Werner en plak homself op die materiaalbank neer. Hy neem ’n slukkie van die koffie en sit die beker dan weer voor hom neer. “Katrien, ek wil graag met jou praat, maar ek wil vra dat jy asseblief nie sal kwaad raak vir my nie.” Katrien sug en gryp een van die stoelkussinkies en druk dit teen haar vas. “Okay Werner, ek’s ene ore.”

“Jy is besig om kos uit te braak en dis ’n ernstige siekte. Jy moet asseblief onmiddellik stop daarmee. Jy pik soos ’n voëltjie en jy’s besig om jou mooi liggaam te verwoes.” Katrien kan die trane in sy beautiful oë sien opdam. “Katrien, jy kan nie dit aan my doen nie, asseblief. Besef jy dat jy voor jou tyd kan doodgaan?”

Katrien bly doodstil, sy weet Werner is reg. Sy weet dat dit waarmee sy besig is, gevaarlik is. “Werner, hoe kom ek uit hierdie put uit waarin ek is? My liggaam is so swak, ek kan skaars van die skool af tot by die huis kom, wat nog te sê van dans. Ek kan nie eet nie, want dan tel ek dalk weer die gewig op wat John Miles wil ek moet verloor.” Werner sit sy beker op die koffietafel neer en skuif langs haar in. Hy neem haar hand in syne en kyk haar stip in die oë. “Katrien, luister nou vir my mooi. John Miles moet sy kop laat lees. As jy nie goed genoeg is vir hulle nie, dan gaan dans jy by The Paris Opera Ballet of iewers anders, dan het hulle jóú verloor. Thats it.”

Katrien dink nie verder nie en sit haar kop op Werner se skouer. Sy voel die trane opdam en sluk hard om dit te keer. Sy weet nie hoe sy hier deur gaan kan kom nie.

Werner spring meteens op. “Kom, ek en jy gaan op ’n date. Gaan maak jouself mooi, ek kry jou sesuur vanaand hier by jou huis.” Voor Katrien kan antwoord is hy uit by die deur.

Sy draf by die trap op en draai die krane van die stort oor. Sy skuif die groot glasdeur oop en staan met haar kop onder die warm water. Katrien vee oor haar sy en skrik vir die ribbebene wat duidelik voelbaar en sigbaar is.

Katrien trek ’n ligte denim aan, ’n wit trui en stewels en draai ’n dik serp om haar nek. Haar lang, bruin hare krul om haar gesig en sy vat haar handsak wat op die bed lê. Haar oog vang haar silhouette in die spieël en sy skrik vir die geraamte wat sy geword het.

Die deurklokkie ruk haar terug na die hede en sy draf by die trappe af. Werner lyk baie sexy in ’n denim, knopieshemp en swart blazer. Katrien bars uit van die lag toe sy die rooi roos in Werner se mond sien. Hy hou sy arm uit na haar sodat sy moet inhaak en Katrien voel of sy op wolke loop.
Die oggendson begin loer deur die skrefies gordyn wat nie heeltemal toegetrek is nie. Katrien sit regop en vee met die palms van haar hand oor haar moeë oë. Sy glimlag toe sy haar selfoon se liggie sien flikker. Sy weet dis Werner, maar sy wil dit nie nou al lees nie. Sy spring uit die bed en draai die stortkrane oop.

Die glaspanele wasem vinnig op en Katrien klim in. Sy kan net nie ophou om aan gisteraand te dink nie. Werner het haar vir ete in ’n baie fancy restaurant geneem en toe het hulle op die fonteinmuur gaan sit en net gechat. Sy het natuurlik dadelik al die kos opgebraak toe sy by die huis kom, maar wat Werner nie weet nie sal hom nie seermaak nie. Hy is so nie soos ander ouens wat net een ding op die brein het nie.

Sy druk die groot, silwer kraan toe en haal een van die koraalkleurige handdoeke uit die kassie langs die stort. Katrien is al van kleins af gewoond om dinge op haar eie te doen. Haar ma het ook seker gemaak dat sy weet sy’s nie afhanklik van ’n man nie en dat sy haar eie besluite moet maak en haar eie geld moet verdien. Die drome wat haar ouers vir haar het, is in ’n mediese rigting, maar haar hart het nog altyd by dans gelê.

Katrien glip vinnig in ’n swart leotard in en trek haar spierwit glitter balletrokkie bo-oor aan. Sy wil vandag vir John Miles ’n ding of twee wys!

 

Die gange voor die ateljee is propvol meisies. Almal rek, strek en draai en oefen hul danspassies om seker te maak hulle lewer net hul beste.

Katrien gaan sit in een hoek en trek haar balletskoene aan. Sy strek haar bene en begin opwarm. “Ek het nie gedink ek sal jou hier sien nie.” Die stem klink bekend. Katrien kyk op en wil amper haar gesig op ’n plooi trek toe sy Alexandra voor haar sien staan. Sy gee ’n skewe glimlag en buig dan weer vooroor. Sy is tog nou glad nie lus om met dié girl geselsies aan te knoop nie. Nie vandag nie. “Nommer 719!” Katrien wip soos sy skrik, hel hoekom klink die vrou so die hel in? Is sy dan laat? Sy spring vinnig op en hardloop na die ateljee toe. Dieselfde beoordelaars sit voor haar en sy kan ’n tevrede glimlag op John Miles se gesig sien toe hy haar op en af bekyk. Pfff, dink sy. Nou wil hy ewe skielik smile.

Die klavier begin en Katrien begin haar stuk. Sy weet sy dans goed, het hier en daar dalk ʼn bietjie werk nodig, maar dis mos hoekom die onderwysers daar is. Om dinge mooi af te rond en dit net te laat WERK.

Die klavier stop en sy is baie beïndruk met haarself. John Miles staan op en begin hande klap. “Juffrou de Jager, ek sien jy het ons raad gevolg. Baie dankie. Ek is baie tevrede. Welkom by die John Miles Dance Academy, die plek waar ons van jou ’n balletster gaan maak! Klas begin Maandagmiddag om drie-uur.”

Katrien glimlag, knik en stap uit die ateljee, eat your heart out John Miles, ek sal jou wys hoe ver ek nog gaan kom!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s