Ballerinas in die Badkamer [Hoofstuk 2]

Screen Shot 2017-06-08 at 9.51.27 AM

Hoofstuk 2

Die reuk van pizza hang in die lug toe die meisies by die restaurant instap. Japie’s Pizza and Takeaways is hulle Vrydagaand hang out voordat hulle ʼn chick fliek gaan kyk. Vanaand is eat as much as you can. Katrien is so lief vir gemorskos al weet sy dat sy dit nie eintlik mag eet nie.

Toe die kelnerin die pizza’s voor hul neersit trek Alexandra haar gesig op ʼn knop. “Alexa, lighten up en eet net een ou stukkie, man,” terg Mia en haak een van die kaasdrade met haar vingers op. “Nee dankie, die goed gaan reguit boude toe,” sê Alexandra steeds met ʼn suur gesig.

Katrien weet dat sy eintlik reg is en as sy in ʼn ordentlike balletskool wil inkom sal sy moet ophou gemorskos eet, by haar dieet bly en oefen, oefen, oefen. Een ou stukkie sal mos nie skade doen nie, môre gooi ek dit weer af in die gimnasium. As dit nie reën nie. Sy neem ʼn stukkie van die pizzabord af en kan die oordeel in Alexandra se oë sien. Sy staan en staar haar verniet so aan. Katrien is sommer dadelik vies en neem nog ʼn stukkie. Gemorskos het nog altyd die ability gehad om haar beter te laat voel en hoekom nie, dis mos nie elke dag wat sy so haarself oorvreet nie.

Danielle verbreek die stilte. “Het julle al almal dates vir die graad 10-dans?” O vrek, sy’t skoon daarvan vergeet, dit ook nog! “Maar natuurlik!” antwoord Mia, en die drie meisies rol hul oë gelyk. “Ons almal weet jy gaan saam met Ryk Neethling se wannabe so kan jy asseblief hoor of hy dalk oulike nefies het wat nie verder as Finland woon nie?” lag Alexandra en Mia trek haar neus op ʼn plooi. “Moenie worry nie girls, ek sal vir julle dates reël, ek is soos Kupido se regterhand as dit kom by blind dates reël.”

 

Katrien skrik wakker met die geskreeu van haar selfoonalarm. Sy strek haarself uit en die donskombers kraak soos sy haar moeë spiere strek. Sy gooi haar bene uit haar bed en stap badkamer toe. Liewe hemel, sy skrik vir ʼn oomblik toe sy haarself in die badkamerspieël bekyk. Cameron Diaz was weer op haar stukke in gisteraand se fliek, en dis duidelik dat Katrien baie min slaap inhet.

Sy was haar gesig, borsel haar tande en probeer haar hare wat lyk asof ʼn weerwolf haar in die hande gekry het, in ʼn bolla vasmaak. Sy maak die deure van haar klerekas oop en haar oog vang die tyd op die horlosie wat teen die kasdeur hang. Sy trek vinnig haar liggroen balletrokkie aan, gooi ʼn trui in haar rugsak en vlieg uit by die deur.

Die pad is sopnat en laat dink Katrien aan ʼn ysskaatsbaan. Sy sukkel om haar motor te beheer en ry baie stadig. Sy het nog net haar leerlinglisensie en as sy nou deur ʼn speedcop gevang word, gaan Jan-Hendrik de Jager glad nie happy met haar wees nie. Haar hart klop in haar keel en sy probeer om nie te vinnig te ry nie maar sy weet ook dat juffrou Rhoode glad nie impressed sal wees as sy laat is nie. Kalmte spoel soos ʼn Kampsbaaigolf oor haar toe sy voor die ateljee stop.

Met twee minute om te spaar, glip sy by die klas in en is verlig om te sien dat juffrou Rhoode geselsies met juffrou Emily wat die klavier speel aanknoop. Sy glip vinnig  haar balletskoene aan en begin dan opwarm.

Juffrou Rhoode begin met opwarmingsoefeninge. Vir Katrien is dit ʼn genot om haar liggaam te kan beheer. Die vloeiende bewegings pomp die bloed behoorlik deur haar are en sy raak verlore in die dans en gee haarself heeltemal oor.

“Begin in eerste posisie,” sê juffrou Rhoode en die klas bring hul bene saam en plaas hul hakke na binne met tone na buite. “Tweede posisie en dan derde,” laat hoor juffrou Rhoode weer.

Na sowat twee ure wat vir Katrien meer soos vyf gevoel het, is die dansklas verby. Sy trek haar balletskoene uit en kyk vinnig op toe ʼn skaduwee oor haar strek. “Juffrou de Jager, gaan daardie voete dit maak vir John Miles?” vra juffrou Rhoode met duidelike kommer in haar stem. “Juffrou, ek sal alles moontlik doen om seker te maak hierdie voete is reg.” Juffrou Rhoode glimlag en stap dan uit die klas.

 

Daar is ʼn gegons in die gang met opwinding om vir die John Miles Dance Academy te kan dans. Katrien was een van die eerstes hier, maar kon nie ʼn kans kry om die beoordeelaars te sien nie. Sy voel vol selfvertroue met haar lilakleurige balletrokkie aan. Haar grimering is natuurlik en haar lang, bruin hare versigtig in ’n stywe bolla gevorm.

“Nommer 719.” Katrien voel hoe die skoenlappers skielik in haar maag angstig fladder. Sy stap vinnig deur die twee groot houtdeure en gaan staan voor die drie beoordelaars onder wie een van hulle John Miles is. Langs hom sit ’n kort, tingerige vroutjie met ’n donkerraam bril wat op haar neus rus. ’n Vrou wat soos ’n engel lyk, sit langs haar met blonde lokke wat versigtig vasgesteek is.

“Jy kan begin,” glimlag die engelvrou vir haar en sy voel dadelik op haar gemak. Die klavier begin speel en Katrien verloor haarself heeltemal in die stuk waaraan sy so hard geoefen het. Sy vergeet van alles rondom haar en dans haar hart uit. Toe die klank van die klavier stop voel sy of sy pas ʼn berg versit het en knik vir die beoordelaars voor sy uitstap na die chaos in die gang buite die ateljee.

Die drie beoordelaars begin een vir een die meisies terugroep om hul noodlot  verklaar.
“Nommer 719.” Katrien se maag rondomtalie en sy gaan staan voor die drie beoordelaars. “Juffrou de Jager, jy het onvoorwaardelike talent.” Katrien sukkel om haarself te beheer en wil dadelik op en af spring. Om so ʼn kompliment van John Miles, nee wag, dié John Miles te kry is huge!

“Die enigste probleem is jou gewig.” Dit voel asof iemand Katrien se wind uitslaan. Gewig? Wat bedoel hy met ʼn probleem met my gewig? “As jy vir ons so vyf kilogram kan afskud, is ek seker dat ons baie gelukkig sal wees om jou te hê.” Katrien voel die warm trane in haar ou opdam. “Juffrou de Jager, jy het dit gemaak, baie geluk ons moet net werk aan daardie een, klein probleempie.” John Miles het sopas vir haar gesê sy is dik! Sy glimlag en knik vir hulle. “Baie dankie,” is al wat sy saggies kan fluister en hardloop dan na buite.

Katrien maak hard met die sementtrap kontak toe sy vinnig daarop neerplof. Die trane stroom van haar wange af. Dit het beslis nie afgeloop soos wat sy gehoop het nie. Hoe die hel kan John Miles, DIE John Miles, vir haar se sy is dik? Die cheek! Sy’s g’n dik nie! Sy snik deur die trane en voel ʼn hand op haar skouer. Sy draai vinnig om en sien ʼn vreemdeling langs haar staan. “Is jy okay?” vra ʼn vriendelike seunstem en vir ʼn oomblik sukkel Katrien om deur die trane te sien.

Voor haar staan ʼn lang gespierde ou, in balletklere. Hy’s nogal handsome dink sy en vee gou die trane van haar gesig af. “Mag ek sit?” vra hy weer, en sy knik en skuif op om plek vir hom op die trap te maak. Hy hou ’n hand uit na haar. “Ek is Werner, aangename kennis.” Katrien skud sy hand en voel die elektriese golwe deur haar lyf spoel. “Katrien, aangenaam.” Sy glimlag vir hom en hy glimlag terug. “Dis ’n baie mooi naam.” Sy hou dadelik van Werner, iets tot hom trek haar aandag en dis nie aldag wat dít gebeur nie. Sy donker hare is krullerig en sy moet haarself keer om nie haar vingers te gebruik en die haarpunte daarom te draai nie.

“So vertel my nou eers hoekom ’n mooi meisie soos jy op ’n koue sementtrap soos hierdie sit en huil.” Katrien word ruk terug na realiteit en haar trane begin weer in haar oë opdam. “John Miles, dié John Miles, het sopas vir my gesê ek’s dik!”

Werner lag vanuit sy maag en Katrien gooi ’n frons na sy kant. “Dis glad nie ’n laughing matter nie, dis nogal ernstig hoor.” “Ek is seker daarvan hy’t dit nie in soveel woorde gesê nie.” Katrien kyk vies na hom. “Natuurlik nie in soveel woorde nie, maar hy hét dit gesê!”

Werner kyk met sagte oë na haar. Hy spring op en hou sy hand uit na haar. “Kom,” Katrien loer na om. “Waarheen?” “Ek stick jou vir ’n milkshake.” Karien rol haar oë. Het hierdie man dan ’n gehoorprobleem? Sy’t nou net vir hom vertel hoe John Miles haar beledig het, en nou wil hy haar nóg dikker maak met ’n milkshake. Ag whatever, dink sy. Sy steek haar hand uit na hom en met een trek is sy weer op haar voete.
Werner hou die restaurantdeur vir Katrien oop en die kelnerin neem hul na hul tafel. Sy skuif tot in die middel van die sitplek en maak die spyskaart oop. “Twee aarbeimelkskommels, asseblief,” sê hy vir die kelnerin en gee die spyskaarte terug vir haar. Katrien kan nie help om na die beeldskone jong man voor haar te staar nie. Glad nie sleg op die oog nie, dink sy en bloos skielik toe Werner haar in die oë kyk.

“So Katrien, wat laat jou tick?” vra Werner tong in die kies. Katrien trek haar oë op skrefies asof sy hom probeer opsom. “Dans. Dans is my lewe.” Die kelnerin sit die melkskommels voor hul neer en Katrien vat ’n lang teug en druk dan met haar vingerpunte op haar slape. “Brain freeze,” lag sy en Werner se hand gly teen hare af. “En jy, Meneer?” Werner neem ’n sluk van sy aarbeimelkskommel wat voor hom staan. “Ek, my liefste Katrien, leef vir God. Hy is my oggend, my middag en my aand en verder dans ek, nes jy.” Katrien voel half ’n knop in haar keel opstoot. Sy’t geweet hys aantreklik en sy kon sien volgens sy klere hy is ’n danser, maar leef vir God? Dít het sy nie verwag nie.

Haar ouers was nog nooit gelowige mense nie. Om eerlik te wees, weet sy nie eintlik wie hierdie ‘God’ is van wie Werner praat nie.

“Ek sal graag meer oor God wil leer.” Die woorde glip uit Katrien se mond nog voor sy kan keer. Werner kry ’n breë glimlag om sy mondhoeke en sy gesig helder op. “Ja! Enige tyd, ek sal graag vir jou meer wil vertel.” Hulle sit albei in stilte terwyl hulle melkskommels opgeslurp word. Werner hou haar hand vas en al weet Katrien dat hulle ’n paar uur terug ontmoet het voel die vibe tussen hulle net … reg. Daar is beslis iets omtrent Werner wat haar laat voel asof enigiets moontlik is en vir die res van die dag vergeet sy heeltemal van John Miles en dit wat hy te sê gehad het.

 

** Geen gedeelte van hierdie boek mag in enige vorm of op enige manier, elektronies of meganies, sonder skriftelike toestemming van die skrywer weergegee of gebruik word nie.

** Foto cred **

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s