Ballerinas in die Badkamer [Hoofstuk 1]

Screen Shot 2017-06-08 at 9.30.28 AM

 

Hoofstuk 1

Katrien staan voor die groot goue raam spieël wat in haar en suite badkamer hang. Bo die raam hang feetjieliggies, en twee antieke lampe is vasgebout aan beide kante. Sy bekyk haarself op en af en lig haar arms hoog bo haar kop in ʼn boog terwyl sy haar tone punt. Sy haal die skelgroen haarrekkie van haar arm af en maak haar lang sjokoladebruin hare hoog op haar kop in ʼn bolla vas.

Die reëndruppels begin saggies dans teen die venster en sy klim versigtig in die Victoriaanse-bad wat in die middel van die badkamer staan. Die kerslig vul die vertrek met net genoeg lig om haar spiere te laat ontspan in die warm water na ʼn dol dag.

“Eina magtig,” prewel sy. Haar hakskene is vol blase en haar tone vol bloedrooi seerplekke. “Dis so gross,” gril sy terwyl sy haar tone tussen die skuimborrels wikkel.

Katrien is nie jou gewone graad 10-meisie nie. O nee! Sy het drome, en nie drome soos al die ander om aan die Universiteit van Stellenbosch klas te draf of soos sekere mense hul ouers se geld te gaan mors en onderwys te gaan swot nie. Nee, sý het groter drome. Sy wil haar talente op een van die wêreld se grootste balletverhoë gaan uitleef. Sy het van kleins af gedroom hoe amazing dit sou wees om by The Paris Opera Ballet te gaan dans. Sy sien haarself beslis as een van die honderd-vier-en-vyftig dansers wat tans hul drome op die einste verhoog uitleef.

Die gemiddelde ouderdom is vyf-en-twintig. ʼn Ouderdom waarvan sy nog baie ver is, maar sy is vasbeslote dat sy iewers in iemand se hart kan indans en dat haar drome sal kan bewaarheid word. Die enigste probleem sal wees om dit te doen sonder haar ouers se medewete.

Jan-Hendrik de Jager, beter bekend as Pa, het nog altyd die vermoë gehad om haar planne in die wiele te ry. Sy kan sweer hy was nooit jonk nie. Hy sê altyd ‘dis omdat ek arm grootgeword het’. Pure nonsens, as jy háár vra. Vir wat moet hy altyd gaan staan en almal omkoop? Dink hy regtig sy is so incapable dat sy niks vir haarself kan doen nie?

Haar ma, Ronelle, is min gespin en geniet hul rykdom tot die uiterste. Haar ma moet tog weet hoe sy voel. Sy’t passie gehad voor sy verlief geraak het op haar pa. Ronelle was een van die land se beste afrigters as dit kom by perde skoue. Maar soos die geld meer geword het, het haar passie vinnig verdwyn en het lunch saam met haar vriendinne en shopping trippies Dubai toe meer belangrik geword.

Nee, sy het klaar besluit sy sal haar mond hou en nie vir een van hulle twee sê nie. Die een sal sonder twyfel die nuus aan die ander oordra, en voor jy tot drie kan tel is iemand omgekoop en dans sy daar net omdat haar pa vet bedrae geld in die direkteure se bankrekeninge inbetaal het.

Sy draai die kraan met haar een voet oop en vergeet amper van die tekens van dans wat daarop ingegraveer is. Die warm water stroom langs haar en sy sak nog ʼn bietjie dieper tussen die skuimborrels weg.

Die houtbakkie met sepies val skielik in die bad en sy glimlag toe sy Mattewis, haar langhaargemmerkat, op die bad se smal randjie sien balanseer. “Mattewis, jy sal ʼn excellent ballerina maak, kyk net na jou balans!” roep sy opgewonde uit.

Katrien draai haarself toe in haar handdoekjapon en staar vir ʼn oomblik na buite deur haar kamervenster. Een van haar beste vriendinne en grootste vyande woon reg langs haar en sy het ʼn front row seat om alles te sien wat in Alexandra se kamer aangaan.

Ongelukkig het Alexandra dieselfde droom as Katrien. Hulle albei besef dat slegs een meisie vanuit ʼn spesifieke skool gekies sal word om by die John Miles Dance Academy te kan gaan dans. Dit laat dink haar aan die ou Western flieks wat haar pa altyd na kyk. ‘This town ain’t big enough for the two of us.’ Hoekom die lewe altyd so complicated moet wees, weet sy nie.

Alexandra is goed. Nee, sy is vrek goed. Sy gaan beslis vir haar ore aansit as sy nie harder oefen en harder aan haar probleemareas werk nie. Sy het meer tyd in die studio nodig maar. Haar gedagtes word onderbreek deur ʼn geklop aan haar kamerdeur. “Wie is dit?” “Dis ekke.” “Net ʼn oomblik!” O vrek! Gou, spring!

Sy duik na haar kas se boonste laai en gryp ʼn paar gestreepte kouse en trek dit oor haar opgeoefende voete aan. Sy lyk soos ʼn hanswors, maar wie gaan tog dié tyd van die aand na haar voete kom kyk? Sy swaai die kamerdeur oop. “Hi, Ma!”Haar ma glimlag en gaan sit op haar bed.

“Katrienkie, ek en jou pa het gesels en ons wil graag ʼn vakansietjie vat. ’n Bietjie na Bahamas toe sodat jou pa van al sy werkstres kan ontslae raak,” beduie haar ma met haar hande.

Katrien leun teen haar kasdeur. “O,” is al wat sy kan uiter. Sy is nie seker wat haar ma se agenda is nie. Nog minder of sy haar, wat Katrien is, kan sê hulle mag gaan, of haar ma vra of hulle maar mag gaan.

“Die probleem is,” begin haar ma weer praat. “Dis reg in die middel van eksamen!”

Katrien gaan sit langs haar ma op die bed en kan nie help om te glimlag vir haar ma se reaksie op die gestreepte kouse nie. “Ma, ek dink julle verdien ʼn vakansie. Gaan en gaan rus lekker.”

Haar ma loer na haar van onder haar blonde kuif en soen haar teen haar voorkop. “Ek’t geweet jy sal verstaan.”  Met een sprong is sy uit by die kamerdeur en word Katrien agtergelaat met slegs die gesuis van die reën en haar eie gedagtes.

 

Die klok wat die einde van die Wiskundeperiode aankondig kon nie vroeg genoeg gelui het nie. “Liewe hemel, ek weet nie hoekom ou Faf so nag oor die algebrastorie nie, niemand van ons gaan dit anyway eendag nodig hê nie”. Ontmoet Mia, ʼn lid van die vier musketeers. Unlike haarself en Alexandra, is sy totally nie into dans nie. Soos in glad nie. Sy is meer die ‘trou ryk’-tipe en spandeer haar dae op fashion blogs en saam met haar ou wat soos Ryk Neethling op ʼn goeie dag lyk.

Die drie meisies staan buite die Wiskundeklas en Danielle, die vierde lid van die vier musketeers, sluit by hulle aan. “So girls, dis Vrydag! Wat is die planne en waar kuier ons vanaand?” Danielle is beslis die life of the party onder hulle en altyd reg vir enigiets.

“Julle kan almal sommer na my huis toe kom, so sewe-uur, dan besluit ons daarvandaan wat om te doen,” sê Katrien en gooi haar rugsak oor haar skouer. Mia en Danielle groet en Alexandra wag tot hulle buite gehoorafstand is voor sy weer praat.

“Katrien, ek weet jy oefen baie hard. Maar jy moet weet dat ek dit net so veel soos jy wil hê.” Katrien kan die desperaatheid in haar ou sien, maar sy kan nie toelaat dat Alexandra haar plek op die verhoog inneem nie. “Alexandra, jy weet ons albei wil die plek hê. Maar net een van ons gaan dit kry. Al wat ons moet doen is dans. Dans jou hart uit en moenie eens dink aan die res nie. ‘What needs to happen, will happen.’” Katrien draai om en sy sweer  as Alexandra Superman se kragte gehad het, het sy nou twee gate deur haar lyf gebrand gehad. Sy kan nie anders nie. Meneer Clarins, haar Engelse onderwyser, het verlede jaar vir haar gesê: “Be careful who you step on, on your way up, you might need them on your way down.” Sy voel dadelik skuldig, maar kan nie omdraai nie. Sy kan nie nou toelaat dat vriendskappe of gevoelens in die pad staan van haar lewensdroom nie.

 

“1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8 and 1, 2, 3, Alexandra skouers plat, maag in, tone gepunt and 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8. ”

Katrien kan sien Alexandra is gerattle oor hul gesprek vroeër. Sy weet dat as klein goedjies soos dit iemand se dansvermoë beïnvloed die kanse amper nul is dat hulle in ʼn goeie academy kan inkom.

Die musiek stop en Katrien loer oor haar skouer. “Dankie dames, dis al vir vandag. Onthou John Miles sal volgende week hier wees vir oudisies. Moenie laat wees nie.” ʼn Paar meisies spring op en af van pure blydskap oor die feit dat John Miles, díé John Miles by ʼn oudisie gaan wees.

“Juffrou de Jager.” Katrien wip soos sy skrik en draai vinnig om. “Mevrou Rhoode,” groet sy vinnig en trek haar ligpienk balletrokkie reg. Sy het nog altyd van juffrou Rhoode gehou al sê die kinders sy is die heks in Hans Christian Anderson se Hansie en Grietjie. Sy is streng, maar met dié klomp moet ʼn mens seker maar wees.

“Juffrou de Jager, ek glo jy’t ʼn goeie kans om volgende week vir die John Miles Dance Academy gekies te kan word, werk hard en maak ons trots.” Katrien voel of sy ʼn asma-aanval gaan kry en kan amper nie woorde uiter nie. Sy kan dit doen en sy gaan dit doen, en niks gaan in haar pad staan nie!

 

Die meisies lê almal uitgestrek op Katrien se sneeuwit mat en blaai die nuutste mode- en skindertydskrifte deur. “Hier kom die koor!” gil Danielle opgewonde:
The story of my life, I take her home, I drive all night, to keep her warm and time is frozen. The story of my life I give her hope, I spend her love until she’s broken inside. The story of my life.”

“Sjoe, maar daai ouens mag maar sing hoor,” glimlag Mia tevrede en blaai verby die middelblad van die One Direction boy band waaroor hulle almal gek is. Katrien stel die radio sagter en gaan sit op haar groter-as-normaal bed en druk ʼn skelpienk kussinkie tussen haar arms vas.

Girls, ek het iets op die hart,” begin sy en die meisies wat voor haar sit kyk haar aandagtig aan. “My ouers het besluit om ʼn vakansietjie in Junie te neem, terwyl dit eksamentyd is. Ek het gedink dis mos nou die perfekste tyd om vir die oudisie by The Paris Opera Ballet te gaan.”

Stilte oorweldig die vertrek en Katrien byt haar onderlip vas. Was dit ’n fout? Sy hoop nie die klomp gaan haar piemp nie, want dan gaan sy vreeslik die hel in wees.

Alexandra maak haar mond oop en Katrien wil-wil haar oë rol. Here it comes. “Ek is game, want natuurlik sal ek ook vir die oudisie wil gaan. Ek neem aan dat ons ouers nie hiervan weet nie?”

Katrien knik. “Wag gou, is julle heeltemal van julle trollies af?” Mia kyk hulle met verwilderde oë aan. “Dis Parys! Nie die mall aan die onderkant van die dorp nie! ʼn Mens sal sweer julle het nog nooit die movie Taken gekyk nie. Hallo, die meisies word ontvoer en verkoop as seksslawe.”

Danielle bars uit van die lag. “Mia, chill, dit sal fine wees, ons gaan nie alleen nie, ons het mekaar en ek dink ʼn roadtrip kan nogal fun wees.”

Alexandra knik. “Die enigste probleem is dat die oudisie in die eksamentydperk val. Hoe gaan ons op twee plekke gelyk wees?” vra sy.

Katrien het gewag hiervoor en het al reeds aan ʼn oplossing gedink. “Ons skryf ons laaste vak, Geskiedenis, twee dae voor die oudisie. Dit gee ons oorgenoeg tyd om daar te kom én die oudisie by te woon.”

Katrien kan sien dat almal nou opgewonde is oor hulle Parys-avontuur en sy voel die senuweeagtigheid in haar keel opstoot. Sy weet dat hulle eers deur volgende week se oudisie moet kom. As sy nie in die John Miles Dance Academy inkom nie, kan sy maar Parys op haar voorkom skryf en met haar beste panty afvee.

 

**Geen gedeelte van hierdie boek mag in enige vorm of op enige manier, elektronies of meganies, sonder skriftelike toestemming van die skrywer weergegee of gebruik word nie.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s