Die Storie van Oom van Niekerk [Afrikaans]

Screen Shot 2017-06-05 at 10.19.59 AM

Laat ek julle gou vertel van oom Kobus van Niekerk. Hy woon stoksielalleen op ‘n plaas tussen hier en nêrens. Hy is 70 jaar oud en elke oggend kwart voor vyf staan hy op, trek sy pantoffels aan en begin vuur maak vir kookwater vir sy swart koffie. Hy is nooit getroud nie, sê dit veroorsaak heeltemal te veel onnodige probleme. Die enigste liefde wat hy het is die liefde vir die Karoo en die plaas.

Wag, kom ons begin by die begin. Ek sit en dagdroom nog so in my kantoor toe my baas ingestorm kom. Ek kyk haar verskrik aan maar sê niks. Sy het mos ingestorm, laat sy maar die praat werk doen. Sy kyk na my met oë wat lyk soos albasters en vir ‘n oomblik wonder ek of die vrou nou ‘n hartaanval gekry het en of sy om gekyk het soos Lot se vrou en in ‘n soutpilaar verander het.

“Linda!” gil sy. Toe nie ‘n soutpilaar nie.

Sy gooi ‘n uitgawe van die varsgedrukte koerant op my lessenaar, so hard dat my kuif effens opwaai.

“Waar de hel kry jy jou inligting? Besef jy hoeveel oproepe vanoggend al ingestroom het oor hierdie artikel?”

Ek frons, en kyk af na die koerant wat voor my lê.

“M…my inligting?” ek loer na haar in die hoop dat sy my in die rede sal val en my sal spaar om ‘n verduideliking uit te dink. Die keer wat sy dit moet doen staan sy met haar hand op haar sy met ‘n uitdrukking wat die sneeukoningin sal laat bang word.

Ek lag senuweeagtig. Fout. Groot fout. Sy gryp die koerant van my lessenaar af en storm by die kantoor uit. Dis nou net ‘n kwessie van tyd voor Meneer Oberholzer hier ingestorm kom, ek my werk verloor en dan op straat sit. En vir wat? Vir ‘n bietjie sensasie. Ek kan voel hoe warm trane my oë opvul maar sluk hard en probeer dink aan daardie keer toe ek ‘n hele bak Oreo roomys opgeëet het en hoe gelukkig dit my laat voel het.

As ek my werk verloor kan ek ‘n fortuinverteller word want nie te lank nie toe storm Meneer Oberholzer by my kantoor in. Ek spring op uit my stoel soos wat ons op skool sou maak as die hoof by die klas instap. Meneer Oberholzer is ‘n kort mannetjie, ‘n bietjie te veel vetjies om die middel maar dit sal ek nou nie waag sê nie. Sy oorgroot bril sit altyd ‘n bietjie te ver op sy neus en die vyf hare op sy kop staan altyd regop. Vyf, ek tel hulle elke oggend in ons vergadering.

“Juffrou Malan, UIT!” gil hy. Ek staan geskok. Ek kan nie beweeg nie. Hy gooi die kantoor deur toe en gaan sit op die ongemaklike lap stoel oorkant die tafel met die koerant nog in sy hand. Met die ander haal hy die oorgroot bril af en gebruik sy hemp om diè skoon te vryf.

“Meneer, daardie hemp se materiaal is hopeloos te hard op die lense, hier, gebruik die” sê ek en gee vir hom ‘n sneesdoekie aan. Ek besef terselfdetyd ek het nou sy moer meter tot in die rooi gedruk want ‘n aar begin vorm op sy voorkop. Hier kom nou moeilikheid en ek moet myself probeer red.

“Juffrou Malan” begin hy weer.

“Meneer Oberholzer, as meneer my nou gaan fire het ek nêrens heen om te gaan nie. Ek sal maar vir Kerneels na meneer toe bring dan moet meneer maar vir hom vertel hoekom hy nie meer ‘n huis het nie. Onthou die SPCA hou katjies deesdae net vir 3 dae dan is dit tickets met hulle”.

Ek kry amper ‘n hartaanval na die woorde my mond verlaat het. Soms, nee, meeste van die tyd dink ek nie ek sê net.

“Juffrou Malan, hierdie sprokies artikel van jou het my ‘n vergadering met die direkteure gewerf. Baie dankie daarvoor. Nou moet jy mooi luister juffrou want ek sê dit net een keer. Pak jou skootrekenaar en gaan huis toe. Hou jou epos dop want Annamarie gaan vir jou ‘n adres stuur van ene Meneer van Niekerk. Jy ry tot by sy plaas en dan voer jy ‘n onderhoud met hom. Ek wil alles van hom weet asook hoekom hy die enigste man is wat nog nie sy plaas aan die regering verkoop het nie. Wat is op daardie plaas wat belangriker as R17 miljoen is? Vind dit uit en as jy ‘n storie het kom jy terug, tot dan, voeter hier uit hierdie gebou uit!” bulder hy. Die opstaan en die deur toe klap was een beweging.

Ek doen toe maar soos hy sê en doen die walk of shame tot by die hysbak. As daar nou een ding is wat ek al geleer het is om nie te redeneer met ‘n kort mannetjie nie, veral nie as daardie aar so regop begin staan teen sy voorkop.

En dis nou hoekom ek hier is. Dit was ook nie maklik nie hoor. Meneer Oberholzer het vergeet om te noem dat oom van Niekerk se plaas so ses ure se ry van my huis af is, ses ure dit sit nie in enige vrou se rok nie. Kom toe op die plaas aan, en hier is niks. Ek weet eintlik nie wat ek verwag het nie want dit is ‘n plaas afterall. Ek gryp die eerste naaste werker wat ek sien en vra waar ek die oom kan kry. Nee hulle weet nie hulle werk nie vir hom nie. Ek besluit toe maar om na die hoof huis te ry en te kyk of ek iemand daar kan opspoor. Wragtig, hier sit dit oom. In die son op die stoep met ‘n koppie koffie.

“Môre Meneer, my naam is Linda ek is hier van Nuus Vandag….”

Hy val my in die rede nog voor ek my mooi introduction kan klaar vertel.

“Ek het gesê ek soek nie joernaliste op my plaas nie, dis privaat eiendom, vat die pad juffrou”.

My moed sak tot in my skoene, my netjies swart kerk skoene nogals, wat my besiel het om hulle plaas toe aan te trek weet die Vader alleen. Ek draai toe maar om en stap na my motor toe want wat anders moet ek nou doen? Wrestle met ‘n oom van diep in die 70.

“Oom weet nie dalk waar ek ‘n hotel kan kry nie? Ek sien darem nie kans vir ses ure se ry weer terug nie”.

En net daar ruk ek daai oom se hartsnare en speel ek vir hom die mooiste melodie want net daar nooi hy my in vir die aand maar laat my belowe ek sal die volgende oggend vroeg in die pad val.

Ek stem saam en vra of daar iets in die huis is waarmee ek solank kan help. My ma skel altyd as ek net rondstaan asof my handjies rond is.

Hy glimlag en staan op, neem sy kierie en stap die huis binne.

“Kom juffrou, ek wys jou waar jy slaap vanaand”

Oom van Niekerk se plaashuis laat my terugdink aan my kinderjare toe ek en my broer vir ouma Lettie in die platteland gaan kuier het. Haar huis het altyd na kaneel en varsgebakte brood geruik. Die oom stoot ‘n groot hout deur oop en wink vir my om in te stap. Die kamer is eenvoudig maar mooi. In die hoek staan ‘n donkerhout klere kas en ‘n dubbelbed met ‘n wit en sagte pienk veredons staan teen die muur. Die son skyn helder deur die hout vensterrame en ek voel sommer dadelik tuis.

“Ag dankie oom dis pragtig” bedank ek hom en sit my oornag tas op die vloer langs die bed neer.

“Nou ja juffrou, kom laat ons begin met middagete, as ons nie hier vir onsself sorg nie sal ons dood van die honger” sê hy en stap dan sukkel sukkel na die kombuis.

Na middagete sit ons langs die groot geelhout tafel en oom van Niekerk vertel my van sy oupa se pa wat op hierdie einste plaas geboer het. My maag draai toe ek dink aan Meneer Oberholzer se laaste woorde aan my. Ek besluit toe maar dis nou of nooit.

“Oom, nou wil ek vir oom ‘n vraag vra, nie as ‘n joernalis nie maar sommer net as ‘n mens”

Die oom kyk my vreemd aan, neem ‘n slukkie van sy koffie en knik dan sy kop as goedkeuring.

“Die regering soek oom se plaas om die grond te gebruik vir behuising, hoekom verkoop oom nie? Is die geld dan te min?” vra ek en voel dadelik sleg.

Oom van Niekerk glimlag en dit laat my beter voel oor die feit dat ek hom sommer so blatant uitvra oor sy privaat lewe.

“Juffrou, hier is iets op hierdie plaas wat baie meer werd is as geld, gaan trek vir jou drafskoene aan dan gaan wys ek jou. Dis so ‘n paar minute se ry en dan ‘n paar minute se stap hier in die kloof op”

Opgewonde sping ek op om iets wat soos drafskoene lyk te gaan aantrek. Wat kan dan nou meer werd as R17 miljoen wees? Ek moet eenvoudig uitvind!

As daar nou een ding is wat ek kan sê van Oom van Niekerk is dit dat hy ‘n man van sy woord is. Dit het ons net ‘n paar minute geneem om met die kanarie-geel bakkie tot by die voet van die kloof te ry. Daar het hy my teen wat gevoel het soos ‘n berg laat uitklim. Die son was al halfpad om die aardie gesak toe ons bo uitkom. Hoe diè oom met ‘n kierie bo uitgekom het weet die Vader alleen. Ek was so uitasem ek moes seker maak ek kry nie ‘n asma-aanval voor ons verder loop nie. En toe sien ek dit.

Dis asof my wêreld gaan stilstaan. Niks het saak gemaak in daardie oomblik nie want ek het dit gesien! “Oom!!” het ek uitgeroep. Hy het gelag en sy kierie neergegooi. Ek het verstom gestaan. Voor my het ek die mooiste rots-poel nog ooit gesien. Ons was bo-op hierdie ongelooflike klip aarde en dit het soos ‘n oasis in die middel van nêrens gestaan nie. Wat dit so mooi gemaak het was dat daar ‘n lig-tonnel van die middelpunt tot in die hemele in gestrek het. Dit was die mooiste en eienaardigste ding wat ek nog ooit gesien het. Mooi, bitter mooi.

Oom van Niekerk drafstap tot by die rots-poel en sak neer in die water. Toe hy opkom vir asem val my bek amper op die grond. Geen wonder die man wil die plaas nie verkoop nie! Geen wonder hy sê dis meer as geld werd nie. Dit was! Dit is! Hoe de hel gaan ek vir Meneer Oberholzer verduidelik ek weet wat die rede is dat Oom van Niekerk nie sy plaas wil verkoop nie maar ek kan nie ‘n artikel skryf daaroor nie. Ek het geweet dit wat ek nou hièr sien sal ek nooit bekend kan maak nie.

Toe oom van Niekerk omdraai na ‘n groot asem teug was hy niks ouer as twintig jaar nie. Hy moes seker sien ek lei aan skok want hy het vinnig uit die water geklim en langs my kom staan. “Nou ja juffrou, wat dink jy”? vra hy opgewonde.

“Nee oom ek weet nie wat om te dink nie. Wat is diè”? vra ek angstig en wys na die rots-poel.

Hy lag en staar na die sonsondergang. “Hierdie rots-poel neem jou terug in tyd juffrou. Hy laat jou toe om die ouderdom te wees wat jy was met jou gunsteling herinnering”.

“So oom se gunsteling herinnering was toe oom twintig was”? vra ek net om seker te maak ek verstaan.

“Dis reg juffrou, die enigste probleem is, is dit verander alles terug na daardie tyd van jou lewe. Maar wag, ons moet gaan, ek sal jou moet gaan wys. Welkom terug by die jaar 1967. Oee en voor ek vergeet juffrou, môre sal Dr Barnard die eerste hartoorplanting suksesvol uitvoer. Hoe sê die jongmense van 2017? Is dit nou nie koel nie? Kom laat ons gaan!”

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s